Search

17 beseer en 4 per helikopter na hospitaal geneem na Eikenhof ongeluk

VAALDRIEHOEK - Paramedici sê 17 mense is beseer na ‘n taxi en ‘n bakkie in ‘n botsing was op die R554 in Eikenhof, net noord van die Vaaldriehoek. ER24 sê sy paramedici en verskeie ander dienste soos die Johannesburgse EMS en Fire OPS SA, het omstreeks 07:49 op die toneel gekom waar beide voertuie in die middel van die besige pad tot stilstand gekom het. Verkeer het reeds begin ophoop weens die ongeluk en padwerke op die pad. Paramedici het twee pasiënte vasgekeer in die bakkie gevind en terwyl nog twee in die taxi vasgekeer was. Dertien ander het naby die twee voertuie in die pad gelê. Die vier vasgekeerde pasiënte - ‘n vrou en drie mans - was in ‘n kritieke toestand, terwyl 13 ander geringe tot ernstige beserings opgedoen het. Reddingsdienste moes gespesialiseerde toerusting gebruik om die vier vasgekeerde pasiënte uit die voertuie te kry. Hulle is op die toneel met gevorderde lewensondersteuning behandel en later met private mediese helikopters na nabygeleë hospitale geneem. ER24 sê die ander 13 is met ambulanse na nabygeleë hospitale geneem. Plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoek.

FOTO: (ER24)



11 views0 comments