Search

20% toename in COVID-19 gevalle die laaste sewe dae in Gauteng

VAALDRIEHOEK - Gauteng het ‘n 20% toename in COVID-19 gevalle in die laaste sewe dae aangemeld. Dit is volgens die mediese spesialis van openbare gesondheid en die voorsitter van Gauteng se advieskomitee, Mary Kawonga. Kawonga het vandag gepraat tydens ‘n media-inligtingsessie oor die provinsie se reaksie op die pandemie en die uitbreek van die nuwe Omikron-variant. Sy sê Gauteng het ook ‘n toename in die persentasie positiewe toetse aangeteken, wat aandui dat gemeenskapsoordrag baie hoog is.

Intussen glo nog ‘n gesondheidskenner die vierde Covid-19-vlaag heers reeds in Gauteng. Die Dekaan van die fakulteit Gesondheidswetenskap en ‘n professor in entstofkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand, Shabir Madhi, skryf dit toe aan die positiwiteitskoers in toetsuitslae in die provinsie. ‘n Nuwe vlaag word bepaal wanneer die koers twee opeenvolgende weke hoër as tien-persent is. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes sê ongeveer 72% van die nuwe gevalle in Suid-Afrika is in Gauteng aangeteken. Madhi het aan Health24 gesê hy verwag ander provinsies sal binne die volgende paar weke volg. FOTO: (NICD)


10 views0 comments