top of page
Search

Aarto padverkeerswet moet teen Vrydag in werking gestel word

VAALDRIEHOEK - Die omstrede Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings (Aarto) tree Vrydag in werking in al agt metrorade én nog 59 munisipaliteite, alhoewel die regulasies wat aandui watter munisipaliteite geraak word, egter nog nie gepromulgeer is nie. Netwerk24 berig dat sodra Aarto van krag word, tree ’n strafpuntstelsel in werking wat meebring dat verkeersoortreders hul rybewyse tydelik of permanent kan verloor. Aarto geld reeds meer as ’n dekade in Johannesburg en Pretoria, maar sonder die strafpuntstelsel. Die verdere inwerkingstelling van die wet is vroeër uitgestel tot 1 Oktober, onder meer omdat die agentskap vir padverkeersmisdrywe (RTIA), wat die wet moet administreer, weens Covid-19 in geldnood was. Benewens die name van die munisipaliteite, moet die regulasies oor watter boete en strafpunte per oortreding opgelê word, ook nog gepromulgeer word. ’n Konsepweergawe daarvan het einde verlede jaar verskyn. Dit het onder meer voorsiening gemaak vir ’n heffing van R100 op elke boete vir die finansiering van die RTIA. Dié konsep het 9 288 kommentare ontlok. Al nege provinsies moet dié regulasies goedkeur. Die Kaapse metroraad en Wes-Kaapse regering is sterk teen Aarto gekant omdat dit volgens hulle in Johannesburg en Pretoria misluk het.

FOTO: (Verskaf)



9 views0 comments
bottom of page