AfriForum sê regering se Blou- en Groendruppelverslae toon rioolwerke is ‘n groot kommer
VAALDRIEHOEK - AfriForum het verwelkom dat die regering vir die eerste keer sedert 2013 hul eie Blou- en Groendruppelverslae bekend gemaak het. Dié verslag beklemtoon egter munisipaliteite se water- en rioolprobleme wat AfriForum jaarliks in sy eie blou-en-groendruppelverslag aandui. AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, Lambert de Klerk, sê AfriForum is sedert 2013 genoodsaak om ’n blou-en-groendruppelverslag saam te stel omdat die Departement van Water en Sanitasie dit ondanks AfriForum se jaarlikse versoeke nie gedoen het nie. Hy sê die groendruppelverslag skets ’n baie donker prentjie aangesien slegs 23 van 850 (2,3%) rioolaanlegte aan die groendruppelstandaarde voldoen. Die slaagpersentasie vir rioolwerke is 90%, maar 334 rioolwerke (64%) het minder as 31% behaal terwyl die gemiddelde nasionale telling 37% is. Die rioolwerke in die Vrystaat het ’n gemiddeld van 26% behaal terwyl Noordwes se rioolwerke 30% en Limpopo 29% behaal het.
De Klerk sê dit is ’n groot bron tot kommer en die Departement van Water en Sanitasie sal moet fokus op die aanlegte wat nog ‘gered’ kan word. Die departement het nou geen ander keuse as om die privaat sektor en gemeenskappe om hulp te nader nie. Hy sê die grootste vraag is egter of daar enige gevolge gaan wees vir die munisipaliteite wat die land se waterbronne al vir jare wetend besoedel. Die departement moet nou tande wys en byt waar hulle kan om diegene wat besoedel krimineel te vervolg terwyl hulle probeer om van die aanlegte te red.
FOTO: (Verskaf)
