Search

ArcelorMittal Suid-Afrika kondig sy beste halfjaar wins in ‘n dekade aan

VAALDRIEHOEK - Die land se grootste staalvervaardiger ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) het aangekondig dat hy sy beste halfjaarresultate van die afgelope dekade behaal het. Uitvoerende hoof, Kobus Verster, het einde verlede week gesê Amsa het ’n verdienste van R3,2 miljard behaal in die halfjaar tot einde Junie, teenoor die verlies van R1,2 miljard ’n jaar gelede. Netwerk24 berig dit was danksy sterk herstel in die vraag na staal, beter staalpryse en streng kostebeheer. Verster meen die goeie prestasie is merkwaardig omdat dit in so ’n moeilike omgewing behaal is, soos die Covid-19-pandemie, Transnet Freight Rail se wisselvallige diens, die uitgerekte tydperk waarin sy aanleg by Newcastle Works vir instandhouding gesluit was, asook tragiese ongelukke waarin drie Amsa-werknemers in Vanderbijlpark gesterf het. Amsa se produksie het met 36% tot 1,5 miljoen ton gestyg, met verkope wat met 10% tot 1,3 miljoen toegeneem het. Verster sê Amsa se aanlegte het hul benuttingskapasiteit in die halfjaar tot 59% verbeter teenoor ’n jaar gelede se 39%. Die aanlegte werk al teen 85% van hul kapasiteit. Die hoogoonde by Vanderbijlpark en Newcastle is nou weer ten volle in bedryf. Verster meen Amsa is gereed om vanjaar aan die volle binnelandse vraag te kan voldoen, op grond van sy produksievermoë van 4,6 miljoen ton.

FOTO: (Verskaf)



5 views0 comments