Search

Banke waarsku teen ’n bedrieër wat duisende kliënte se inligting bekom het

VAALDRIEHOEK - Banke waarsku die publiek oor misdadigers wat hulle persoonlike besonderhede kan gebruik om toegang tot hulle rekeninge te kry. ‘n Bedrieër het hom as ‘n kliënt van die kredietburo Experian voorgedoen om die rekords van talle Suid-Afrikaners in die hande te kry. Die skelm het so die kontak-inligting, telefoonnommers en adresse van 670,000 kliënte bekom. Experian se uitvoerende hoof, Ferdie Pieterse, sê die bedrieër was reeds in besit van nog byna 800,000 mense se name en ID-nommers. Die verdagte is intussen reeds geïdentifiseer en ’n bevel is verkry om op sy hardeware beslag te lê. Die data wat onregmatig verkry is, is beveilig en uitgevee. Pieterse het by navraag aan Netwerk24 gesê die inligting behels nie-vertroulike kontakbesonderhede en inligting oor waar verbruikers werk. Experian se ondersoek het geen bewyse gevind dat die inligting vir bedrog aangewend is nie. Dit blyk eerder dat die verdagte die inligting vir bemarkingsdoeleindes aan versekeraars en kredietverskaffers wou verkoop.

FOTO: (Verskaf)


22 views