Search

Brandstofdata sal nou glad nie meer bekend gemaak word nie

VAALDRIEHOEK - Die Departement van minerale bronnne en energie het besluit om alle inligting oor die brandstofpryse – inligting wat nou al meer as 20 jaar elke weeksdag gepubliseer word – voortaan vir verbruikers heeltemal geheim te hou. Netwerk24 berig verbruikers sal nou maar elke maand moet wag totdat die veranderinge in brandstofpryse vir die nuwe maand aangekondig word. Direkteur van brandstofprysbepaling in die departement, Robert Maake, het aan Netwerk24 gesê die oor- en onderverhalings op brandstofpryse gaan nie meer openbaar gemaak word nie, nie eens meer in die middel en aan die einde van die maand nie. Die departement het sowat twee maande gelede besluit hy gaan nie meer die daaglikse data – wat aanduiding gee van die rigting waarin brandstofpryse gaan beweeg – daagliks op die webwerf van die Sentrale Energiefonds publiseer of dit aan die media uitreik nie. Daarna is data net in die middel en einde van die maand uitgereik, maar selfs dit gaan nou nie meer gedoen word nie. Volgens die berig het die departement van energie ‘n probleem daarmee dat die Automobiel Assosiasie (AA) die inligting gebruik om in die middel van die maand ‘n nuusverklaring aan verbuikers uit te reik wat toon in watter rigting brandstofpryse beweeg.

FOTO: (Verskaf)



373 views0 comments