Search

DA vra vir optrede teen Evaton polisiebeamptes wat vrou aanrand

EVATON - Die Demokratiese Alliansie (DA) in Gauteng het die provinsie se LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, gevra om polisielede se aanval op ‘n vrou in die Evaton-polisiestasie in die Vaaldriehoek te ondersoek. ‘n Video op sosiale media wys hoe twee manlike geregsdienaars die vrou oor die vloer binne die kliëntediens sentrum sleep en een van hulle haar klap terwyl sy om hulp roep. ‘n Tweede beampte probeer om, wat berig word om ‘n pruik te wees, terug op die vrou se kop te plaas. Die beeldmateriaal toon ook hoe ander SAPD-lede die voorval in die agtergrond dophou. Die DA sê sulke onetiese gedrag kan nie geduld word nie. Gauteng polisie woordvoerder, Brigadier Mathapelo Peters, sê die beamptes op die video is geïdentifiseer en ‘n dringende departementele ondersoek is van stapel gestuur. Die oorsake wat tot die voorval gelei het, is nog nie bekend nie. DA woordvoerder, Michael Shackleton, sê hulle sal die ondersoek in hierdie voorval monitor om te verseker dat die beamptes vervolg word. Gauteng Polisiekommissaris, Luitenant Generaal Elias Mawela, sê die insident is kommerwekkend en beklemtoon weer die polisie se nul verdraagsaamheid standpunt oor geslagsgeweld. FOTO: (YouTube)


28 views
Listen Live.jpg