Die departement van basiese onderwys ondersoek vraag 5 van die Wiskunde Vraestel 2.
Die departement van basiese onderwys ondersoek ’n wiskundevraag ter waarde van sewe punte wat matriekkandidate Maandag in hul eindeksamen te staan gekom het. Dít nadat leerlinge gekla het dat die Wiskunde Vraestel 2-vraag 5 “onmoontlik” was om te beantwoord. Volgens die departementele woordvoerder, Elijah Mhlanga, is die vermoedelike fout landwyd aangemeld. Mhlanga het leerlinge verseker dat dit nie nodig is om daaroor bekommerd te wees nie. 'n Paneel sal daarna kyk en as ‘n fout verklaar word, sal die nasieners vraag 5 ignoreer sodat niemand gekompromitteer word nie. Daar sal ook gekyk word wat die impak daarvan op die leerlinge was. Mhlanga het verduidelik dat sommige leerlinge gekla het dat hulle tyd gemors het om die antwoord te bewerk en ander het uiteindelik gefrustreerd en gestres geword. Mhlanga het gesê amptenare sal ook na die algehele prestasie van die leerlinge kyk, en as daar vasgestel word dat die vraag hul eksamen beïnvloed het, sal die departement die gehalteversekeringsraad Umalusi vra vir 'n opwaartse aanpassing van 1% of 2%. Hy het bygevoeg, dat dit is hoe eksamens en assesserings regoor die wêreld werk.
