Search

Die koronavirus eis nog 75 lewens in Gauteng

COVID-19 - Gauteng het gister die meeste nuwe COVID-19-sterfgevalle aangemeld. Nog 75 mense is in die provinsie dood, terwyl 44 sterftes in die Wes-Kaap aangemeld is. Die Oos-Kaap het 36 sterfgevalle aangemeld, KwaZulu-Natal 22 en Limpopo 15. Die land se totale dodetal staan nou op 3 502. Altesaam 215 855 mense het reeds die virus in die land opgedoen, terwyl 102 299 pasiënte reeds herstel het.


Die Gautengse Gesondheidsdepartement het verder ‘n bykomende 300 verpleegkundiges gekry om die toename in koronavirus-besmettings te help hanteer. Die Minister van Gesondheid, Dr. Zweli Mkhize, het tydens ‘n onderhoud met SAfm gesê die verpleegpersoneel sal hulp verleen in intensiewe- en hoësorgsale in gebiede wat onder erge druk verkeer. Hy sê die aantal hospitaalbeddens sal landwyd vermeerder word om stygende toelatings te hanteer, terwyl 20 000 bykomende ventilators teen die einde van volgende maand beskikbaar sal wees.


Die LUR van Gesondheid in Gauteng, Dr. Bandile Masuku, het ‘n beroep op burgers gedoen om die regulasies te gehoorsaam wat in plek gestel is om die verspreiding van die virus te bekamp.

FOTO: (National Institute for Communicable Diseases op Facebook)


11 views