Die polisievakbond se lede sluit vandag by die staatsdienstaking aan.
Die polisievakbond, POPCRU, sluit vandag by die staatsdienstaking aan. POPCRU sê hul lede gaan oor etenstyd betoog. Die vakbond Haitu, wat 20,000 gesondheidswerkers verteenwoordig, het gister bevestig dat hulle ook gaan staak.
Intussen doen die verpleegorganisasie Denosa ‘n beroep op die regering om die voortslepende staking in die openbare sektor onmiddellik te beëindig. Die nasionale onderwys-, gesondheids- en verwante werkersvakbond, Nehawu, het hom voorgeneem om sy protesoptrede hierdie week te verskerp oor die dooiepunt oor salarisverhogings. ‘n Voorlopige verslag van die Departement van Gesondheid het bevind vier mense is weens die protesoptrede dood. Die vakbond eis ‘n verhoging van 10% terwyl die regering 4,7% aanbied. Denosa sê die stryd gaan om die lewenskoste vir staatsamptenare te verbeter.
