Die regering wil skuiwergate toestop oor die aanhou van wilde diere in woongebiede.
Die ministerie van Omgewingsake werk saam met provinsiale en plaaslike regerings om wette oor die aanhou van wilde diere, soos tiere, as troeteldiere in woongebiede, op te skerp. Dit volg nadat nog ʼn tier Maandag in Edenvale, Gauteng, rondgeloop het. Die tier is verdoof en na ʼn reservaat geneem. Slegs weke tevore is nog ʼn tier, Sheba, van kant gemaak nadat dit uit die eienaar se eiendom ontsnap het. Die adjunk-direkteur van Biodiversiteit en Bewaring, Flora Mokgohloa, sê inwoners behoort nie gevaarlike diere as troeteldiere by hulle huise aan te hou nie.

