Die VF Plus sê Emfuleni bevoordeel inwoners wat nie vir krag betaal nie
- 90.6 FM News
- Jun 27
- 1 min read
VANDERBIJLPARK - Die VF Plus sê die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se besluit om inwoners wat getrou hul kragrekeninge vereffen se konvensionele en voorafbetaalde kragmeters met slimkragmeters te vervang, is nie goed deurdink nie. Die VF Plus is nie gekant teen die installering van slimmeters nie, maar is van mening dat wanbetalers eerste slimmeters moet kry. Volgens Raadslid Cobus Cato was daar ook nie ʼn openbare deelnameproses gevoer met geraakte inwoners van onder meer ‘n groot deel van die SE- ,SW-gebiede en Drie Riviere waarvoor 4,827 voorafbetaalde kragmeters geoormerk is nie. Inwoners van dié gebiede betaal getrou hul kragrekeninge terwyl inwoners in ander gebiede hul kragrekeninge ignoreer, kragmeters omseil of krag steel. Dit is juis in hierdie gebiede waar slimkragmeters geïnstalleer moet word om wanbetalers vas te vat en ʼn inkomste vir die munisipaliteit te genereer. In ‘n brief aan munisipale bestuurder April Ntuli vra Cato ook watter kontraktuele ooreenkoms bestaan tussen Emfuleni en BXC-kontrakteurs. Die VF Plus doen ‘n beroep op Emfuleni om hierdie kwessie dringend te hersien, deursigtige kommunikasie te prioritiseer, en ‘n regverdige en inklusiewe proses te volg vir die uitrol van slimkragmeters.
Comments