Die voormalige burgemeester van Midvaal bedank uit ActionSA.
Die voormalige burgemeester van Midvaal, en voorsitter van ActionSA Gauteng, Bongani Baloyi, sê dit is te danke aan hom dat die party in die provinsie nou sterk strukture het, en dat dit moontlik die rede kon wees waarom hy as ‘n bedreiging bestempel word. Hy het gister sy bedanking aangekondig ná ‘n vergadering met die party se leierskap. Dit volg op berigte oor spanning tussen Baloyi en leier Herman Mashaba verlede week, weens onversoenbare verskille in hoe die provinsiale strukture bestuur is. Baloyi hou vol, hy weet nie wat presies die onversoenbare verskille was nie.
In 2013 is Baloyi tot uitvoerende burgemeester van die Midvaal plaaslike munisipaliteit verkies. Hy was toe net 26 jaar oud, en het gevolglik die jongste burgemeester in Suid-Afrika geword.
