Drie kinders dood in ’n kop-aan-kop botsing in Meyerton
MEYERTON - Netcare 911 is Sondagaand net na 8 ontbied na ’n botsing op die R42 in Meyerton. Die nooddiens het in ‘n verklaring gesê dat berigte daarop dui dat ’n vragmotor en motor in ’n trompop-botsing betrokke was. Medici het gevind dat twee minderjarige seuns en een minderjarige meisie noodlottige beserings opgedoen het en is op die toneel dood verklaar. ’n Volwasse vrou het kritieke beserings opgedoen en is op die toneel deur gevorderde lewensondersteunende paramedici behandel voordat sy met ’n Netcare 911-helikopter na die hospitaal geneem is vir verdere sorg. Omstandighede wat tot die voorval gelei het sal deur die betrokke owerhede ondersoek word. Netcare 911 asook brand- en reddingsdienste, verkeerspolisie, ER24 en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was op die toneel. FOTO's: (Netcare 911)


