Search

Dubbelsyferstygings in minimumloon vir plaaswerkers en huiswerkers vanaf 1 Maart

VAALDRIEHOEK - Die werkgewers van huiswerkers en plaaswerkers sal vanaf 1 Maart aansienlik meer moet opdok om hul werknemers te betaal, nadat die regering nuwe nasionale minimumloon-vereistes aangekondig het. Suid-Afrika se nasionale minimum loon sal op Maart 1 met byna 4,5% styg, wat beteken werkers moet minstens R21,69 per uur betaal word. Die Minister van Indiensneming en Arbeid het die nuwe wet gister in die Staatskoerant gepubliseer. Dié verhoging is in pas met die Nasionale Minimumloonkommissie se voorstel in November dat die minimum loon met die inflasiekoers (wat in September 3% was) en nog 1,5 persentasiepunte moet styg. Mense wat hul huiswerkers net die minimumloon betaal sal ook meer moet opdok omdat dit met 22,6% styg, vanaf die huidige R15,57 tot R19,09 per uur. Dit beteken huiswerkers moet nou nagenoeg 88% van die nasionale minimum loon betaal word, teenoor 75% tot dusver. Boere en landbou-ondernemings moet van volgende maand af plaaswerkers die volle minimumloon betaal. Dit beteken plaaswerkers se minimum loon styg met meer as 16%, vanaf die huidige R18,68 tot R21,69 per uur. Tot dusver het plaaswerkers 90% van die minimum loon verdien.

FOTO: (Verskaf)


8 views0 comments