ELM blameer sy finansiële situasie vir swak dienslewering.
Die sukkelende Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het swak dienslewering op sy finansiële situasie geblameer. Burgemeesterswoordvoerder Mphikeleli Msibi het aan The Citizen gesê die huidige finansiële situasie van die munisipaliteit werk teen die dienslewering aan sy inwoners. Volgens Msibi het ELM oor die jare al hoe minder inkomste ingesamel en ongelukkig het dienslewering in die proses daaronder gely. Msibi sê dienste soos watervoorsiening, sanitasie, elektrisiteit en afvalinsameling is erg geraak. Msibi het ’n beroep op inwoners wat nie vir dienste betaal nie om dit te begin doen. Msibi het ook ELM se waardering uitgespreek aan inwoners wat wel vir dienste betaal en hulle verder aangemoedig om dit voort te sit aangesien hul verantwoordelike optrede die munisipaliteit operasioneel hou.

