Emfuleni amptenare het nie salarisse ontvang nie
VAALDRIEHOEK - Die Vryheidsfront Plus sê amptenare en raadslede van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit het nie soos gebruiklik op die 25ste van die maand salarisse ontvang nie. Die VF Plus se Emfuleni raadslid Gerda Senekal het in ‘n verklaring gesê Randwater het op 19 April beslag gelê op Emfuleni se bankrekening weens uitstaande skuld van R888 245 710. Die waterverskaffer het egter uit goedertrou die beslagleggingsbevel vir ʼn dag opgehef sodat salarisse betaal kon word. Senekal sê intussen het ʼn groep amptenare van Emfuleni egter die hooggeregshof genader om ʼn beslagleggingsbevel vir uitstaande voordele van R600 000 wat aan hul verskuldig is. Die hooggeregshof het die amptenare toestemming gegee om op die munisipaliteit se bankrekening beslag te lê, wat daartoe gelei het dat geen salarisse op die 25ste uitbetaal kon word nie. Sy sê Amptenare en raadslede word nou benadeel weens die ANC-beheerde Emfuleni se wanbestuur van die munisipaliteit.
FOTO: (VF Plus)
