Emfuleni betaal meer as R800 000 p.m aan oortyd terwyl 36 vullisverwyderingsvoertuie staan
VAALDRIEHOEK - Die VF Plus sê die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit het nie geld om sy stukkende vullisverwyderingsvragmotors te herstel nie, maar wel R15,1 miljoen vir die salarisse van 19 senior navorsers en ondersteuningspersoneel vir ANC-politici en meer as R800 000 vir oortydbetaling aan werkers van die vullisverwyderingsdepartement. Die VF Plus se Piet Smith sê in ‘n verklaring dieoortydbetaling is vir munisipale werkers wat noodgedwonge naweke moet werk om die agterstand met vullisverwydering te probeer inhaal. Smith sê dit is onnodige uitgawes en die geld kon eerder aangewend geword het vir die herstel van munisipale voertuie en om brandstof aan te koop. Hy sê tans is 36 van die 39 voertuie van die vullisverwyderingvloot van Emfuleni in die motorhawe vir herstelwerk. Die drie oorblywende vragmotors staan ook dikwels sonder brandstof weens die munisipaliteit se kontantvloeiprobleme.
FOTO: (VFPlus)
