Search

Emfuleni kon 66 algemene werkers aanstel met geld vir nuwe onnodige werknemers

VAALDRIEHOEK - Die VF Plus in Emfuleni sê die munisipaliteit se ANC regering gaan vanjaar verder druk op belastingbetalers plaas deur die aanstelling van 19 senior navorsers en ondersteunende personeel teen ʼn bedrag van R15,1 miljoen per jaar. Die party se Gerda Senekal sê met dié stap het die ANC-regering weer bewys hy is nie besorg oor dienslewering in Emfuleni nie. Sy sê die stadsraad kon met die geld 66 algemene werkers per jaar aangestel het. Volgens Senekal sal die salarisbegroting vir die finansiële jaar met hierdie aanstelling sal vanaf R1,2 miljard na R1,3 miljard styg. Die totale finansiële begroting is R6,8 miljard waarvan 21% aan salarisse bestee word. Dit ten spyte daarvan dat die munisipaliteit maandeliks nie grootmaat krag- en watervoorsieners asook ander diensverskaffers kan betaal nie. Senekal sê hierdie vorm ʼn bose kringloop waar die munisipaliteit ontoereikende dienste lewer en gedwing word om tariewe te verhoog wat tot minder ontwikkeling en groei van die privaatsektor lei. Dit lei eerder tot 'n verarmde bevolking en werkloosheid wat die inkomstestroom van die munisipaliteit verder verminder. Sy sê die VF Plus is toegewyd tot sy kiesers en sal nie skroom om teen onbillike voorstelle te stem nie.

FOTO: (VF-Plus)



11 views0 comments