Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit skop vas teen Eskom
EMFULENI - Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit wil inwoners gerus stel oor die hof se beslissing wat Eskom toelaat om beslag te lê op munisipale eiendom. Emfuleni woordvoerder, Makhosonke Sangweni, sê dit is kommerwekkend dat Eskom inligting van die beslaglegging aan die publiek bekend gemaak het voor die saak afgehandel is. Volgens die verklaring is die saak steeds by die appelhof. Sangweni glo Eskom was oorhastig om hof toe te gaan sonder om die inter-regeringsbeleid te volg. Emfuleni het laasweek appel aangeteken, maar tog het Eskom die geveg in die media gelig. Sangweni sê die munisipaliteit veroordeel die kragvoorsiener se aksies, en sal Eskom hof toe vat indien hulle volhou met dreigemente. Die appelhof datum vir die verhoor is 11 Oktober 2023. Volgens Eskom skuld Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit die kragreus sowat R5.3-biljoen. Volgens berigte ontmoet plaaslike regering, Eskom en Emfuleni Donderdag om die skuld-krisis te bespreek.
FOTO: (Verskaf)
