Emfuleni stel duur werkswinkel af ná druk van VF Plus
VAALDRIEHOEK - Die Vryheidsfront Plus sê die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit het sy beplande duur en luukse werkswinkel vir die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) na ʼn goedkoper lokaal verskuif ná druk van die VF Plus. Emfuleni raadslid Gerda Senekal sê in ‘n verklaring die munisipaliteit het ‘n werkswinkel vir die 13de en 14de Maart by die Lakefield-konferensiesentrum in Benoni langs die OR Thambo-lughawe beplan. Die werkswinkel het oornaggeriewe ingesluit. Senekal sê die VF Plus het in ʼn skrywe aan die munisipale bestuurder, April Ntuli, geëis dat die beplande werkswinkel afgeskaf word weens Emfuleni se reeds benarde finansiële situasie. Die VF Plus het voorgestel dat die werkswinkel na die Vereeniging-banketsaal verskuif word om kostes te bespaar. Dit is dan ook nie noodsaaklik vir die 110 raadslede en amptenare om van oornaggeriewe gebruik te maak nie. Senekal sê die ANC kan nie luukse werkswinkels beplan terwyl die Emfuleni-munisipaliteit nie sy personeel kan betaal, sy grootmaatverpligtinge aan Eskom en Randwater nakom en dienslewering totaal afgeskaal is nie.
FOTOS: (VF-Plus; Gerda Senekal)


