Emfuleni wil 30% verhoging in salarisbegroting toepas
VAALDRIEHOEK - Die Vryheidsfront Plus sê hy is gekant teen Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se aanbeveling van 'n 30%-verhoging op die salarisbegroting terwyl 57% van die poste vakant is. Die VF Plus se Raadslid Gerda Senekal sê in ‘n verklaring die munisipaliteit se personeelkorps bestaan uit 2, 443 personeellede (wat 90 raadslede insluit) terwyl sowat 80% van die diensleweringprosesse deur kontrakteurs behartig word. Die getal personeellede oorskry dié van metrorade in die provinsie. Senekal sê die onvermoë van die munisipaliteit om sy grootmaat-waterverbruik te beheer, is die gevolg van 40% se waterverliese gedurende die afgelope finansiële jaar. Inwoners sal moet boet vir die reuse verlies. Sy meen Emfuleni se openbare deelnameproses het jammerlik gefaal met die voorhou van die munisipaliteit se onvolledige geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP).Senekal sê die weglating van die voorgestelde 2021/22-begroting wat aan die einde van die maand voor die raad vir goedkeuring moet dien, is ʼn uitvloeisel van wanadministrasie waarin die munisipaliteit verkeer. Die VF Plus kan nie die begroting goedkeur nie en inwoners word aangemoedig om saam met die VF Plus hierteen op te staan en ʼn sterk boodskap aan die ANC te stuur dat die verval van die munisipaliteit nie langer geduld sal word nie.
FOTO: (VF-Plus)
