Erwat werknemers gyselaar gehou deur ontevrede Sebokeng inwoners
VAALDRIEHOEK - Werkers van die Ekurhuleni Water Care Company (Erwat), wat werk daaraan om die besoedeling in die Vaalrivier in die Vaaldriehoek aan te spreek, is volgens berigte deur ontevrede lede van die Sebokeng-gemeenskap gekaap en as gyselaars aangehou. Netwerk24 berig die lede van die gemeenskap eis om as werkers by die projek in diens geneem te word. Dit het veroorsaak dat die projek van sowat R1 miljard tydelik tot stilstand geruk is, omdat Erwat ter wille van die veiligheid van sy werknemers besluit het om werk vir eers te staak. Woordvoerder van die departement van water en sanitasie, Sputnik Ratau, het oor die naweek gesê die projek sal moontlik teen Woensdag hervat word na samesprekinge tussen al die rolspelers oor hoe sowat 300 lede van die gemeenskap betrek kan word. Tot nou toe was 120 mense van tien maatskappye by die projek betrokke. FOTO: (SANDF)
