Search

Eskom sal beslagleggings by Emfuleni opskort na munisipaliteit R50 mil betaal

VAALDRIEHOEK - Eskom sê hulle sal die beslagleggings van bates by die Emfuleni Distrik Munisipaliteit opskort. Dit volg na die kragvoorsiener bevestig het dat die Emfuleni-munisipaliteit in die Vaaldriehoek R50-miljoen van sy agterstallige skuld betaal het. Talle kantoorbates is verlede week deur die balju in beslag gelê nadat die munisipaliteit versuim het om hul skuld aan Eskom af te betaal. Die kragverskaffer se uitvoerende hoof, André de Ruyter, het gister met die LUR vir Samewerkende Regering, Lebogang Maile, vergader om die munisipaliteit se Eskom-skuld van 2,3-miljard rand te bespreek. Die Gautengse provinsiale regering het gevolglik ingestem om R50 miljoen rand aan die Emfuleni Munisipaliteit te betaal om te keer dat die kragonderneming beslag lê op bates by die munisipaliteit. Maile sê ‘n span wat bestaan uit amptenare van Emfuleni en Eskom, sal vergader om verdere besonderhede aan te spreek en ‘n verslag hieroor moet binne die volgende twee weke voltooi wees.

FOTO: (Emfuleni)



10 views