Eskom se hoofbestuuder het goeie nuus oor beurtkrag
VAALDRIEHOEK - Eskom se hoofbestuurder, André de Ruyter, voorsien nie dat gereelde beurtkrag in die onmiddellike toekoms nodig sal wees nie. Ontleders het gewaarsku dat Suid-Afrikaners die ergste beurtkrag tot nog toe kan verwag as die winter aanbreek. De Ruyter sê egter die kragvoorsiener het tydens die inperking goeie vordering gemaak met instandhouding. Hy het aan die parlement gesê hoewel Eskom se posisie steeds wankelrig is, het die ingenieurs daarin geslaag om beurtkrag-voorvalle tydens die inperking van die aanvanklik-verwagte 31 dae, af te bring na drie dae. De Ruyter het gesê die nasionale inperking het Eskom se kragvraag met tussen 7 500 MW en 9 000 MW laat val. Die kragvoorsiener het in April R2,5 miljard minder kontant gegenereer, terwyl sy uitgawes op steenkool en diesel ook skerp gedaal het. De Ruyter het gesê weens die vlak 5-inperking kon Eskom nie sy beplande diep instandhouding van kragstasies doen nie, maar die instandhouding sal op 1 Junie begin.
FOTO: (Verskaf)
