Search

Eskom verduidelik hoekom hy wil hê verbruikers vir sonkrag moet betaal

VAALDRIEHOEK - Eskom het verduidelik waarom dit eintlik nodig is dat verbruikers wat hul eie sonkrag opwek steeds ‘n heffing aan die kragverskaffer moet betaal – al gebruik hulle nie Eskom se elektrisiteit nie. Die kragvoorsiener se uitvoerende hoof, André de Ruyter, het gister in ’n gesprek met die Vryemarkstigting (FMF) gesê Eskom beoog om sy tariefstruktuur in twee te deel. Een deel sal aan die koste van die verbruiker se energieverbruik verbonde wees en die ander deel vir hul verbinding aan die kragnetwerk as ’n soort huurgeld wat hulle sal betaal. Die rede hiervoor is dat huishoudelike sonkragopwekking nie genoeg is om jou totaal van die kragnetwerk onafhanklik te maak nie. De Ruyter verduidelik dat mense wat sonpanele sonder enorme bergingsbatterye aanbring, Eskom as ’n tipe rugsteunkragverskaffer sal nodig hê. Wanneer die son vir 'n tyd nie skyn nie of die wind hou op waai, sal huishoudings wat hul eie krag opwek steeds Eskom vir energie nodig hê. Dit is hierdie onvoorspelbare verbruikspatrone wat vereis dat Eskom vir sy diens as “battery vir huishoudings” vergoed moet word. Netwerk24 berig De Ruyter sê egter Eskom is glad nie teen eie kragopwekking gekant nie – inteendeel, hy reken dit kan baie van die land se kragtekortprobleme oplos indien meer mense self krag begin opwek, selfs op kleinskaal. Hy sê Eskom lewer egter ’n diens om as rugsteunkragverskaffer sy kragnetwerk beskikbaar te stel aan mense wat op vreemde tye energie sal wil gebruik en moet dus daarvoor ’n prys vra.

FOTO: (Verskaf)


17 views0 comments

Recent Posts

See All