top of page
Search

Eskom waarsku teen ‘n moeilike winter namate die vraag na elektrisiteit toeneem

VAALDRIEHOEK - Eskom het aangekondig fase 5-beurtkrag sal vanaf 4-uur vanmiddag ingestel word tot 5-uur môreoggend, in plaas van fase 6. Daarna sal verskeie fases oor die naweek geld. Sondag sal fase 1 van krag wees vanaf 5-uur die oggend tot 4-uur die middag. Dit kom na die voorsitter van die Eskom-raad, Mpho Makwana, sê die weervoorspelling toon baie kouer weer in die weke wat voorlê, wat beteken die vraag na elektrisiteit gaan toeneem. Makwana het vanoggend inligting oor die toestand van die netwerk en die vooruitsigte vir die wintermaande by Megawatt Park in Johannesburg bekend gemaak. Hy sê dit gaan ‘n baie moeilike winter wees.

Eskom se waarnemende uitvoerende hoof, Calib Cassim, sê die waarskynlikheid van fase 8-beurtkrag is hierdie winter baie groot indien ingrypings wat vir die seisoen beplan word, nie die gewenste uitwerking het nie. Cassim het Suid-Afrikaners op hoogte gebring oor die stand van die netwerk en die vooruitsig vir die wintermaande. Die kragvoorsiener het drieduisend megawatt te min in vergelyking met verlede winter weens stukkende eenhede by die Kusile- en die Koeberg-kragstasie. Cassim sê beurtkrag word ingestel om ‘n algehele ineenstorting te vermy.

FOTO: (Verskaf)




2 views0 comments
bottom of page