Gauteng Premier wil 'n universiteitsdorp in die Vaal skep
VAALDRIEHOEK - Gauteng se Premier, David Makhura, het gister in sy provinsiale rede gesê sy regering wil die Vaal-ekonomie help regruk. Makhura sê planne word gemaak om nuwe lewe te blaas in die vervaardiging-, logistieke, landbou- en landbouverwerking-sektore van die Vaaldriehoek deur ’n spesiale ekonomiese sone aan albei kante van die Vaalrivier - in Gauteng en die Vrystaat - te skep. Netwerk24 berig die Sedibeng-beleggingsprojekte sluit in die ontwikkeling van ’n vragvervoerlughawe en logistieke spilpunt, die Vaal Marina-ontwikkeling, ontwikkelings soos die Savannah City- en Vaal River City-projekte, ’n beleggingsprojek van AB InBev en logistieke en mynbeleggings in die Heidelberg-omgewing. Makhura sê die regering hoop die beplande projekte sal sowat R40 miljard se beleggings in die ekonomie van die Vaaldriehoek instoot. Hy sê die nasionale en provinsiale regerings is ook reeds in gesprek met die twee universiteite in die omgewing – die Vaal-Universiteit vir Tegnologie (VUT) en die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlpark-kampus. Hulle wil die moontlikhede ondersoek van ’n meesterplan om dié twee universiteite in “ ’n enkele, vooruitstrewende en innoverende universiteitsdorp” met ’n universiteitsgebaseerde ekonomie te konsolideer. FOTOS: (My Property; Fin24 - 'n Vroeër kunsternaarsvoorstelling van die Vaal River City)

