Search

Geen vorms meer nodig indien SA reisigers plaaslik vlieg nie

VAALDRIEHOEK - Reisigers in Suid-Afrika hoef van môre af nie meer ’n vorm van die gesondheidsdepartement te voltooi voordat hulle plaaslik vlieg nie. ‘n Woordvoerder van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (ACSA) het die veranderinge bevestig, terwyl die binnelandse lugdiens Mango ‘n verklaring gepubliseer het waarin sommige van die veranderinge uiteengesit word. In die hersiene reëls word plaaslike gesondheidsondersoeke vir lughawens landwyd vanaf vanaand om middernag gestaak. Sedert die hervat van plaaslike vlugte in Junie moes alle reisigers ’n uitgebreide vraelys van die departement van gesondheid invul, onderteken en aan amptenare by die lughawe oorhandig voor elke vlug. Dié vorms, wat basiese inligting soos passasiers se naam, kontakbesonderhede, vlugnommer en dies meer bevat, was bedoel om moontlike verspreiders van die koronavirus op te spoor sowel as persone wat dalk besmet is. Die nuwe regulasies geld net plaaslike vlugte. Vir internasionale vlugte moet die nodige vorms steeds ingevul en ingehandig word. Inkomende passasiers moet ook steeds oor ’n negatiewe toets vir Covid-19 beskik.

FOTO: (Verskaf)


1 view0 comments