Search

Hoërskool Dr. Malan leerling val van tweede verdieping af

MEYERTON - Oudleerlinge van die Hoërskool Dr. Malan in Meyerton, Gauteng, het Donderdag ’n gr. 8-leerling van die skool te hulp gesnel nadat sy van die tweede verdieping van ’n skoolgebou geval het. Netwerk24 berig oudleerling en voorsitter van die skool se beheerliggaam, Wessel Hattingh, sê onderwysers het dadelik reageer om die meisie te help, paramedici is gekontak om haar te stabiliseer en hy het besluit om ’n ander oud-Dokkie, André Coetzee van Henley Air te kontak om die meisie na die hospitaal te neem. Die voorval het gebeur net nadat die 14-jarige meisie ’n eksamenvraestel geskryf het. Volgens Hattingh het Coetzee een van sy vlieëniers gestuur wat binne 20 minute met ’n helikopter op die skool se sportveld geland het. Die meisie, wat ernstige kop- en heupbeserings opgedoen het, is na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto geneem. Volgens die berig sê skoolhoof, Rossie Briers, leerlinge het Donderdagoggend van 08:00 tot 10:00 hul eksamenvraestelle geskryf en die voorval het net ná 11:00 gebeur. Hy sê sover hulle kon vasstel, is die meisie in ’n stabiele toestand. Briers sê daar was slegs ’n paar leerlinge wat dit sien gebeur het en hulle het berading ontvang.

FOTO: (Wessel Hattingh)





4 views0 comments