Search

Hoërskool Driehoek herdenk brugramp

VANDERBIJLPARK - Dit is môre presies ‘n jaar na die Hoërskool Driehoek brugramp op 1 Februarie 2019 die gemeenskap van Vanderbijlpark en die land geruk het. Vier leerlinge het gesterf toe ‘n loopbrug ineengestort het na ‘n saalbyeenkoms. Meer as 20 ander is beseer. Die skool was vir twee weke lank gesluit gewees, waarna die kinders in tente op die sportterrein vir 'n aantal weke klasgeloop het terwyl ondersoeke gedoen is na ander moontlike swakplekke in die skoolgebou. Die skool het vandag ‘n spesiale opening gehou om die dag te herdenk. ‘n Jacques van der Westhuizen-kunswerk uit vlekvrye staal genaamd “Trinity”, is volgens Vaalweekblad bekendgestel na afloop van ‘n spesiale diens deur Vian Storm van die River of Life-gemeente. Willem Engelbrecht van BTG Everyday Heroes het ‘n motiveringspraatjie gelewer en leerlinge het kans gehad om kranse neer te lê, asook ‘n paar minute van stilte gehad om aan hul oorlede maats – Royden Olckers, Jandré Steyn, Marli Currie en Marnus Nagel – te dink. FOTOS: (WhatsApp; Vaalweekblad)


48 views1 comment