Search

Laerskool Risiville bevestig 'n Gr. 7 leerling toets positief vir COVID-19

BREKENDE NUUS - Laerskool Risiville in Drie Riviere, Vereenging, het bevestig dat die skool gesluit is nadat ’n Graad 7 leerling positief vir COVID-19 getoets het. Die skool het vanmiddag ’n verklaring uitgereik wat stel dat die leerling se ouers die skool op 20 Junie daarvan verwittig het. Volgens die verklaring, wat deur skoolhoof Mnr. M Willemse onderteken is, het die leerder skool bygewoon tot Maandag 15 Junie en die gesin is vanaf 16 Junie in self-isolasie omdat die pa simptome begin toon het en die betrokke gesin vir toetsing gegaan het. Daarom glo die skool die kans gering is dat die leerling die virus by die skool kon opgedoen het. Volgens die verklaring word die skool vandag, op Maandag 22 Junie, weer professioneel en diep skoongemaak in lyn met die regulasies en standaarde van die Gesondheidsdepartement en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes in Suid-Afrika. Willemse sê die skool sal heropen as die nodige toestemming van die distriksdirekteur en gesondheidsdepartement ontvang is. Die heropeningsdatum sal so spoedig as moontlik gekommunikeer word. Die skool het ‘n beroep op ouers en die gemeenskap gedoen om nie valse inligting via sosiale media te versprei nie aangesien dit onnodige paniek kan saai.

FOTO: (Laerskool Risiville)


9 views