VAALDRIEHOEK - Die organisasie Missing Children SA vra verbeterde veiligheidsmaatreëls om iets te doen aan die toename in kinderverdwynings. Die welsynsorganisasie vra meer waaksaamheid onder die gemeenskap en beter opvoeding van kinders oor veiligheid. Bianca van Aswegen van die organisasie sê veiligheid begin tuis, met ouers en voogde wat 'n lewensbelangrike rol speel. Van Aswegen moedig ook gemeenskapslede aan om enige mishandeling of verdagte gedrag aan te meld en toesig te hou oor kinders in hulle buurte. Sy sê kinders moet nooit alleen buite of in die strate speel, of alleen winkel toe stap nie, en benadruk dat daar altyd volwasse toesig moet wees. Verder sê Van Aswegen een van die ander groot probleme is sosiale media. Hulle vra dat ouers hulle kinders se sosiale media dophou, omdat dit een van die grootste platforms is waar kinders vir verskeie redes gelok word.
FOTO: (Verskaf)
Comments