Search

Nege beseer in 5-voertuig ongeluk oorkant Vaal Mall

VANDERBIJLPARK - Paramedici sê nege mense is beseer na ‘n ongeluk tussen twee minibus taxi’s en drie motorvoertuie by die Barrage en Rossini Boulevard kruising in Vanderbijlpark. ER24 en ander nooddienste het gistermiddag 12:00 op die toneel oorkant Vaal Mall gekom waar hulle die vyf voertuie in die middel van die besige kruising gevind het. Verskeie mense het op die toneel rondgeloop terwyl ‘n man vasgekeer was in ‘n ligte motorvoertuig wat tussen twee taxi’s vasgesit het. Reddingsdienste moes gespesialiseerde toerusting gebruik om die man uit die voertuig te kry. Hy en die ander agt mense is op die toneel behandel. Daar is gevind dat hulle gering tot matige beserings opgedoen het. ER24 sê daar was gelukkig geen ernstige of noodlottige beserings nie. Die pasiënte is behandel en daarna na nabygeleë hospitale vir verdere sorg geneem. Plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoek.

FOTO: (ER24)


9 views0 comments