Search

Polisie sak toe op Meyerton fabriek na verwarring oor noodsaaklike dienslewering

MEYERTON - Die polisie het volgens berigte ‘n fabriek in Meyerton, wat sakke vir graan en kunsmis vervaardig wat in die produksie van voedsel gebruik word, Maandag gesluit en 17 werknemers in hegtenis geneem. Vaalweekblad berig produksie by Trio Bulk Bags in Meyerton het voortgegaan na die nasionale staat van inperking wat op 27 Maart in weking getree het. Volgens die eienaar, James Williams, was die polisie nie geïnteresseerd om na sy permitte te kyk wat bewys dat hy ’n noodsaaklike diens lewer nie. Williams vertel aan die koerant dat swaargewapende lede van die polisie met agt voertuie op sy sakeperseel in Hoystraat toegesak het en mense links en regs in hegtenis geneem het. Sy voorman, Shaun Bekker, is oornag in die polisieselle aangehou. Williams se regsverteenwoordiger, Wessels en Vorster Ingelyf se Norman Wessels, sê in ’n skrywe aan die areakommissaris van Sedibeng en stasiekommissaris van Meyerton die saak is nooit op die hofrol geplaas nie en Bekker is later vrygelaat. Williams wil nou die saak verder vat omdat hy meen die arrestasies heeltemal onwettig was. Volgens Williams is die fabriek Woensdag heropen en gaan bedrywighede daar voort.

FOTOS: (Verskaf aan Vaalweekblad)




53 views