Randwater lê beslag op Emfuleni munisipaliteit se bankrekening
VAALDRIEHOEK - Die Vryheidsfront Plus sê Randwater het beslag gelê op die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se bankrekening weens uitstaande skuld van R888 245 710. VF Plus Emfuleni raadslid Gerda Senekal het gister in ‘n verklaring gesê dit het gevolg ná die munisipaliteit nie sy afbetalingsooreenkoms van drie jaar gelede met Randwater nagekom het nie. Senekal sê in Februarie 2020 is gedwonge beurtwater ingestel waar die waterdruk van ʼn gemiddelde 200 kilopascal (kPa) tot 150kPA verlaag is. Emfuleni se waterskuld was toe meer as R1,2 miljard. Sy sê Eskom het in Desember 2022 op een van die munisipaliteit se bankrekeninge beslag gelê vir uitstaande skuld wat R5,8 miljoen beloop. Die elektrisiteitverskaffer het ook beslag gelê op 25 van die raad se diensleweringsvoertuie. Volgens Senekal huur die munisipaliteit tans voertuie om dienslewering soos vullisverwydering te verrig. Sy sê die verval van die Emfuleni-munisipaliteit kan net toegeskryf word aan die ANC se onvermoë om ʼn munisipaliteit suksesvol te bestuur.
FOTO: (VF Plus)
