Search

Sasol oorweeg om sonkragaanlegte by twee van sy fasiliteite te laat bou

SASOLBURG - Die petrochemiese reus Sasol sê hy wil sonkragaanlegte by sy Sasolburg en Secunda aanlegte laat bou. Sasol het vandag in ‘n verklaring belangstellendes genooi om voorstelle te stuur om aanlegte met ’n kapasiteit van 10 MW by sy aanlegte in Sasolburg in die Vrystaat en in Secunda in Mpumalanga te bou. Hoof van volhoubaarheid by Sasol, Hermann Wenhold, sê in die verklaring dit volg op sy versoek in Mei dat belangstellendes voorstelle maak oor hoe Sasol uiteindelik 600 MW se groen krag van onafhanklike kragprodusente kan koop. Volgens die verklaring sal Sasol van die suksesvolle bieërs verwag om die sonkrag-PV-fasiliteite en hul gepaardgaande verbindingsinfrastruktuur te ontwerp, finansier, bou, bedryf, onderhou en te besit om sodoende op eie koste 10 MW krag aan elk van Sasol se bedrywighede te lewer. Die suksesvolle bieër(s) sal as onafhanklike kragprodusent(e) ingevolge ’n langtermyn-kragkoopooreenkoms elektrisiteit vanaf die sonkrag-PV-fasiliteite aan Sasol lewer. Belangstellende partye kan Sasol by solarpvfarm@sasol.com kontak vir meer inligting en voorstelle moet teen Vrydag 2 Oktober ingedien word. Netwerk24 berig Sasol sê hy hoop dat die gebruik van groen krag sal help dat hy met sy bedrywighede 1,6 miljoen ton kweekhuisgasse minder per jaar in die atmosfeer sal vrystel.

FOTO: (Verskaf)


1 view