Search

Splinternuwe vullisverwydering-trokke in Emfuleni staan sonder brandstof

VAALDRIEHOEK - Die Vryheidsfront Plus in Emfuleni sê ‘n tekort aan brandstof vir die nege splinternuwe vullisverwydering-trokke in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit is die rede waarom inwoners se vullis steeds net een keer per maand verwyder kan word. VF-Plus Raadslid Gerda Senekal se in ‘n verklaring benewens die brandstof-probleem beskik die trokbestuurders, wat deur die provinsie aangestel is, tans nie oor geskikte swaarvoertuiglisensies nie. Senekal sê die munisipaliteit het onlangs nege nuwe vullisverwydering-trokke vanaf die Gautengse provinsiale regering ontvang om diensleweringsprobleme in die gebied te verlig. Sy sê dit gebeur egter nie en inwoners word gestraf vir die swak bestuur van die Emfuleni-munisipaliteit. Senekal sê uit die 42 trokke wat Emfuleni benodig vir vullisverwydering is net drie trokke in Vanderbijlpark, drie in Vereeniging en vyf in Sebokeng in gebruik. Die res van die trokke staan reeds ses jaar in werkwinkels omdat die munisipaliteit nalaat om die diensverskaffers se rekeninge te betaal. Sy sê hierdie is weer ‘n voorbeeld van verkwisting van belastinggeld en dat dit meer sin sou gemaak het om diensverskaffers te betaal om van die bestaande trokke wat minimale herstelwerk benodig te herstel en weer in diens te stel.

Intussen neem onwettige vullisstortings toe en verander Emfuleni volgens Senekal in ‘n vullishoop. Die VF Plus sal nie terugstaan vir die oningeligte besluitneming van die Emfuleni-administrateur, Gilberto Martins, en sy span nie. Sy sê die party is gereeld in gesprek met dié span om hulle aan te moedig om besluite tot voordeel van belastingbetalers te neem. Inwoners van Emfuleni word aangemoedig om seker te maak hulle is geregistreer om op 27 Oktober saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en ‘n bevoegde raad te verkies wat hul belange op die hart dra.

FOTO: (VF Plus)









12 views0 comments