Search

Swaarder vonnis teen Vanderbijlpark pa wat oudste seun per abuis skiet

VANDERBIJLPARK - ‘n Vanderbijlpark man wat sy oudste seun in Maart verlede jaar per ongeluk doodgeskiet het na hy hom as ‘n inbreker aangesien het, se vonnis is vandeesweek in die hooggeregshof in Pretoria verswaar na hy verlede jaar slegs op waarskuwing vrygelaat is. Die streekhof in Vanderbijlpark het die 52-jarige Coert Kruger in September verlede jaar skuldig bevind aan moord op sy 30-jarige seun, Coert jr., maar hom net ’n waarskuwing gegee. Streeklanddros Robert Buttonhet gesê elke keer wanneer Kruger in die spieël kyk, sal hy in die oë van sy seun se moordenaar kyk, en hy kan aan geen groter straf dink nie. Die staat het teen die vonnis geappelleer op grond daarvan dat die hof nie genoeg gewig aan die getuienis van Coert jr. se ma, Sharon Taylor, sou gegee het nie. Vandeesweek het die hooggeregshof in Pretoria Kruger tot agt jaar tronkstraf gevonnis wat voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is. Die hof meen ’n langtermynvonnis is onvanpas. Kruger se prokureur, David Mey, het Saterdag gesê hulle is tevrede met die uitspraak. ’n Emosionele Kruger het aan Rapport gesê hy is dankbaar dat hulle nou ’n konklusie kon bereik. Hy sê dit maak dinge nie makliker nie, maar nou kan hulle weer op ’n nuwe fase van herbouing fokus ná daardie tragiese dag.

FOTO: (Kruger omhels sy ander seun na hy gevonnis is vir die moord op sy ouer seun - Elizabeth Sejake: Rapport)


28 views