VAALDRIEHOEK - Die landbou-organisasie TLU SA sê adjunkpresident Paul Mashatile se onlangse opmerkings dat die waterkrisis hanteer gaan word, is net politieke praatjies in aanloop tot die verkiesing. President Cyril Ramaphosa het hom as voorsitter van ʼn watertaakspan aangestel. Mashatile sê die waterkrisis het ʼn saamwerk-benadering nodig, wat die vaardighede van Solidariteit en AfriForum insluit. TLU SA se woordvoerder, Bennie van Zyl, sê ʼn omvattende langtermyn-watervisie is noodsaaklik.
Forum 4 Service Delivery sê intussen swak leierskap het negatiewe gevolge vir munisipaliteite in Gauteng. Die bestuursprestasie-aanwyserverslag deur Good Governance Africa identifiseer Tshwane en Johannesburg as voorbeelde van groot stede wat swak vaar. Abel Tau van die forum sê hulle veldtog vir die komende verkiesing is gemik op bestuursondersteuning en -oorsig in munisipaliteite ten einde beter dienslewering te verseker. Tau onderneem om hulle oplossings Sondag op ‘n openbare geleentheid in Soweto bekend te stel en ook aandag te gee aan die bestuurskrisis en gebrek aan oorsig in die provinsie.
FOTO: (M&G)
Comments