Search

Verontagsaming van inperkingsreëls kan jou R5000 kos

VAALDRIEHOEK - Die Gautengse departement Justisie het inwoners wat die inperkings-maatreëls oortree, gewaarsku dat hulle met tot R5,000 beboet kan word. Meer as 280 mense is die naweek in die provinsie in hegtenis geneem omdat hulle nie die regulasies nagekom het nie. Die departement sê herhaalde oortreders kan ses maande gevangenisstraf opgelê word. Mense wat in die inperkingstyd in die Vrystaat in hegtenis geneem word, sal egter nie tot 16 April in aanhouding hoef te bly nie. Hulle sal in die landdroshowe in die provinsie vir borgtog kan aansoek doen en uitgelaat word, as hulle daarvoor kwalifiseer.

Intussen is verskeie klagtes, waaronder moord en verkragting, reeds sedert die nasionale afsluiting afgekondig is teen die polisie aanhangig gemaak. ‘n Woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat, Sontaga Seisa, sê talle klagtes is in verskeie provinsies teen die polisie aanhangig gemaak. Een polisiebeampte in Gauteng en twee in die Wes-Kaap word weens moord ondersoek. Seisa sê nog ’n beampte in die Wes-Kaap is die verdagte in ‘n verkragtingsaak. Van die ander klagtes sluit in die afvuur van ’n vuurwapen, asook aanrandingsklagtes in verskeie provinsies. Altesaam 21 klagtes word ondersoek. FOTO: (Verskaf)


20 views
Listen Live.jpg