Search

VF Plus identifiseer verskeie rooi vlae tydens debat oor Emfuleni-stadsrede

VAALDRIEHOEK - Die VF Plus sê hy het het verskeie rooi vlae geïdentifiseer in reaksie op die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se stadsrede. Die party se raadslid in Emfuleni, Gerda Senekal, sê in ‘n verklaring dit is ook goed dat die presidensie die stadsrede en die repliek daarop kon bywoon sodat die nasionale uitvoerende gesag self kan sien in watter krisis Emfuleni verkeer. Senekal sê die eerste rooi vlag handel oor ʼn gebrek aan behoorlike munisipale oorsig. Sy meen dit is skande dat die munisipale oorsigkomitee se voorsitter vanuit die regerende ANC kom en nie soos die gebruik is onder die voorsitterskap van ʼn opposisieparty staan nie. Die tweede rooi vlag is die feit dat talle senior poste vir lang tye vakant bly en dat junior amptenare moet waarneem in daardie poste. Volgens Senekal lei dit tot ʼn gebrek aan ervaring en strukturele onstabiliteit in die munisipaliteit wat op sy beurt weer bydra tot endemiese swak dienslewering. Die derde rooi vlag is dat daar nie ʼn behoorlike onderskeid getref word tussen politieke verteenwoordigers en die amptenary nie. Senekal sê vorige politici word aangestel as senior amptenare wat beursies beheer en ʼn invloed het op die toekenning van tenders. Op dié wyse gedy ANC-staatskaping heerlik in Emfuleni ten spyte van die munisipaliteit se bankrot status. Volgens Senekal is die werklike kwessies in Emfuleni dus swak bestuur en die plundering van hulpbronne.

FOTO: (VF Plus; 90.6 FM News)




9 views0 comments