VF Plus sê Emfuleni werkers sit ledig terwyl openbare toilette vrot
VEREENIGING - Die Vryheidsfront Plus in Emfuleni sê die toiletgeriewe van die lisensiekantoor in Vereeniging is so morsig dat geen mens dit kan waag om daarvan gebruik te maak nie. VF Plus Emfuleni raadslid Gerda Senekal sê in ‘n verklaring die VF Plus het verlede week ʼn oorsigbesoek gebring aan die lisensiekantore en op die skokkende tonele in die toiletgeriewe afgekom. Senekal sê die publiek moet van dié geriewe gebruik maak wanneer hulle vir ure in rye moet staan om bestuurs- of voertuiglisensies te hernu. Sy sê die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit het sowat 120 algemene werkers in diens wat onder meer verantwoordelik is vir die skoonmaak van openbare toiletgeriewe, kantore, parke, stormwaterslote en meer. Baie van dié werkers is al vir jare onproduktief omdat hulle geen skoonmaakmiddels of -gereedskap het om hul werk mee te verrig nie. Die werkers verdien ʼn bruto salaris van R261 588 per jaar met voordele wat insluit behuising, pensioen en medies. Die VF Plus het Vrydag vir beide Hassan en die waarnemende direkteur van openbare werke, Erni Strydom, gevra om dadelik fondse te bewillig om die openbare toiletgeriewe by die lisensiekantore skoon te maak en gebreekte toilette en wasbakke te vervang. Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die munisipaliteit om sy plig teenoor die publiek na te kom en sal binnekort weer die lisensiekantore besoek.
FOTO: (VF Plus)
