Search

VF-Plus sê laer waterdruk en elektrisiteitskapasiteit kan lei tot watertekorte in Emfuleni

VAALDRIEHOEK - Die Vryheidsfront-Plus in Emfuleni sê Rand Water en Eskom se besluit om die Emfuleni Munisipaliteit se waterdruk en elektrisiteitskapasiteit te verminder, kan lei tot 'n grootskaalse watertekort in dié gebied. Die VF-Plus se Gerda Senekal sê in ‘n verklaring dat Rand Water se besluit om Emfuleni se waterdruk met 20% weens wanbetaling te verminder, die gevolg is van die munisipaliteit se onvermoë om hul afbetalingsooreenkomste na te kom. Die Emfuleni-munisipaliteit skuld Rand Water R1,1 miljard en is R994 miljoen agterstallig. Eskom het intussen die elektriese stroomsterkte vanaf 600 na 300 ampère verminder wat die watertoevoer na groot gedeeltes van Emfuleni belemmer. Die VF Plus is van mening dat die verminderde elektriese stroomsterkte asook die verlaagde waterdruk besig is om te lei tot die leegloop van die watertorings. Senekal sê die het op vele geleenthede die burgemeester, Gift Moerane, en munisipale bestuurder, Lucky Leseane, gevra om te verduidelik waarom hulle nalaat om Eskom en Rand Water te betaal aangesien die munisipaliteit elke maand sowat R370 miljoen van belastingbetalers ontvang. Die VF Plus sal hom aanhou beywer vir ‘n skoon en verantwoordbare regering en sal ongerymdhede en korrupsie in munisipaliteite openbaar om so te verseker dat belastingbetalers die dienslewering ontvang wat hulle toekom.

FOTO: (VF-Plus)


3 views