Search

VF Plus sê ‘n Vanderbijlpark fabriek sluit moontlik weens konstante kragonderbrekings

VAALDRIEHOEK - Die VF Plus in Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit sê swak instandhouding van die munisipale kragstelsel dryf fabrieke weg. Die VF Plus se Gerda Senekal sê dit kom te midde van die beoogde sluiting van ‘n fabriek in Vanderbijlpark wat kan veroorsaak dat 500 mense hul werk verloor. Senekal sê meer fabrieke verskuif na buurgebiede weens voortdurende kragonderbrekings in die gebied. Sedert 1 Januarie vanjaar tot op hede is Vanderbijlpark al vir vier keer tot twaalf ure sonder elektrisiteit gelaat wat meer ondernemings dwing om hul deure te sluit of te hervestig in Midvaal, Sasolburg en selfs Rustenburg. Die party blameer die ANC-beheerde munisipaliteit vir sy onbevoegdheid en versuim om die kwessie van kragvoorsiening in die munisipaliteit aan te spreek. Die VF Plus het die burgemeester van Emfuleni, Sipo Radebe, versoek om dringend die probleem aan te spreek en verslag te lewer oor hoeveel geld van die 2020/21-begroting bestee is vir onderhoud en opgradering aan die elektrisiteitnetwerk. 'n Bedrag van R165 miljoen is vir onderhoud en opgradering begroot. Senekal sê Emfuleni was verlede jaar gereeld sonder elektrisiteit weens verskeie substasies wat aan die brand geslaan het en woongebiede twee keer per week vir ure en selfs dae lank sonder krag gelaat het. Die VF Plus skryf die algehele verval van die munisipaliteit toe aan die jarelange finansiële wanbestuur, korrupsie, selfverryking, vermorsing en verkeerde prioriteite onder ANC-beheer.

FOTO: (Verskaf; VF Plus)



13 views0 comments