top of page
Search
Writer's picture90.6 FM News

VF Plus sê twee nuwe brandweerwaens vir Emfuleni kan druk op buurtwagte verlig

VAALDRIEHOEK - Die VF Plus sê die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se aankoop van twee splinternuwe brandweerwaens sal die druk op buurtwagte verminder wat gedurende die wintermaande vure met mobiele watertenks moet bestry. Die party in Emfuleni se Gerda Senekal sê in ‘n verklaring ‘n soortgelyke brandweerwa wat verlede jaar aangekoop is, is tans by die vervaardiger vir ʼn diens en word teruggehou omdat die diens-kostes nog nie betaal is nie. Senekal sê Emfuleni, wat Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark en Vereeniging bedien, het onlangs ʼn bekendstelling van die twee Mercedes-brandweerwaens gehou ten tyde van ʼn amptelike seremonie onder leiding van die burgemeester, mnr. Sipho Radebe, en die burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, mnr. Ellias Mokoena. Sy sê alhoewel die VF Plus die aankoop van die brandweerwaens verwelkom, bestaan daar vrese dat Emfuleni nie daarvoor sal kan betaal nie. Die twee brandweerwaens kos R6,2 miljoen elk. Die VF Plus spreek die hoop uit dat die Emfuleni-munisipaliteit wel die fondse sal voortbring om vir die brandweerwaens te betaal. Die party sal die situasie noukeurig volg.

FOTO: (VF Plus)


7 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page