Search

VF Plus sal ingryping van water en sanitasie departement by Vaal-rioolbesoedeling fyn dophou

VAALDRIEHOEK - Die VF Plus in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit verwelkom die ingryping van die nasionale departement van water en sanitasie by die erge besoedeling van die Vaalstelsel. Die party se Gerda Senekal sê egter hy sal die werksaamhede rondom die opruiming van die stelsel sorgvuldig volg om te verhinder dat belastinggeld nie weer in ‘n bodemlose put verdwyn nie. Die departement het in ‘n skrywe aangedui dat agtien kontrakteurs op ‘n noodgeval-grondslag aangestel gaan word om die voortslepende rioolvloei in die Vaalrivier en omliggende omgewing, veral in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit, te behandel. Die kontrakteurs se eerste taak sal wees om rioolverstoppings te verwyder en skoon te maak om ‘n beter vloei na rioolplase te verseker. Senekal sê dit sal meer as R1 miljard kos om die stelsel te herstel terwyl 19 miljoen Suid-Afrikaners van die Vaalstelsel se water afhanklik is. Die ingryping van die departement van water en sanitasie, kom nadat die Menseregtekommissie (MRK) die rioolbesoedeling van die Vaalstelsel, wat die Vaaldam, Vaalrivier, die Vaal Barrage en Rietspruit insluit, tot ‘n menseregteskending verklaar het. Die nasionale departement van water en sanitasie het ingevolge artikel 63 van die Wet op Waterdienste die bestuur van die waterdienste in Emfuleni oorgeneem.

Senekal sê die ANC in Emfuleni het die eens vooruitstrewende munisipaliteit vernietig. Sy sê met die komende plaaslike regeringsverkiesing kan inwoners hierteen opstaan en saam met die VF Plus staan om ‘n sterk boodskap te stuur dat dit nie langer geduld sal word nie. Sy meen die verval moet gestop word.

FOTO: (VF-Plus)


1 view0 comments