Search

VF Plus verwelkom MRK se ‘menseregte-monitor’-inisiatief oor Vaalrivier-besoedeling

VAALDRIEHOEK - Die VF Plus sê hy verwelkom die Menseregtekommissie (MRK) se inisiatief om nieregerings- en plaaslike gemeenskapsorganisasies as ‘menseregte-monitors' te betrek om die kommissie te help in sy aanbevelings en bevindings aan die drie regeringsfere rondom die vernietigende besoedeling van die Vaalrivierstelsel. Die party se Gerda Senekal sê in ‘n verklaring hulle het reeds in 2019 ʼn voorlegging aan die MRK gelewer waarna die kommissie in Februarie 2021 die Vaalrivierstelsel tot ʼn menseregteskending verklaar. Die MRK het toe ook die Emfuleni-munisipaliteit, die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), asook die nasionale departement van water en sanitasie, verantwoordelik gehou vir die totale ineenstorting van Emfuleni se watersuiweringstelsel. Senekal sê die rioolbesoedeling is sedertdien onveranderd en die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit kon nie daarin slaag om onverwerkte riool wat vrylik in die Vaalrivier inloop, stop te sit nie. Sy sê die VF Plus spreek die hoop uit dat wanneer die MRK in September met die regering vergader, die voorlegging van só ʼn aard is dat daar onmiddellik opgetree word om die Vaalrivierstelsel van totale ondergang te red. FOTO: (VF-Plus)




3 views0 comments