Search

Vrou sterf, 3-jarige beseer, in vragmotorongeluk in Deneysville

DENEYSVILLE - Paramedici sê‘n vrou het gesterf en twee ander, waaronder ‘n drie-jarige meisie, is beseer in ‘n vragmotorongeluk op die R549 in Deneysville, Vaaldriehoek. Paramedici het met aankoms op die toneel om 09:00 ‘n stukkende motorvoertuig in die noodbaan gevind, terwyl die vragmotor in die veld ‘n ent verder geparkeer was. ER24 sê die vrou was nog binne die ligte motorvoertuig, maar daar is bevind dat sy ongelukkig reeds aan haar talle beserings beswyk het. Woordvoerder van ER24, Russel Meiring, sê ‘n driejarige meisie van die ligte motorvoertuig het matige beserings opgedoen, terwyl die manlike vragmotorbestuurder met ligte beserings ontsnap het. Meiring sê die pasiënte is op die toneel behandel en daarna na ‘n nabygeleë hospitaal vir verdere ondersoek geneem. Plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoek.

FOTO: (ER24)


12 views0 comments